Klakouse

 

Foto/Graphics : Internet

Foto/Graphics : Internet

 

Vanoggend was ek al vroeg wakker.  Manlief is kort na vyfuur werk toe.  Ek is haaswakker en besluit om bietjie op die forums te gaan rondsnuffel.  Wat ‘n teleurstelling.  Almal kla.  Op die kosforums kla hulle omdat hulle aan 6 kosforums behoort en sien dieselfde resepte op al die forums.  (Hoekom dan aan 6 behoort?) Kies die beste een uit die lot en beweeg aan.

Op die politieke forums is dit tien keer erger.  Almal kla oor slegte dienslewering, staak, vernietig dit wat nog werk en kom volgende verkiesing, trek almal hulle kruisie weer by die dieselfde gesig.  Ek verstaan dit nie.  Stem vir ‘n ander party.  Ek skuld geen party my lojaliteit nie.  Ek werk nie vir hulle nie . . . hulle werk vir ons.  Finish and klaar.

So “surf” ek die ander forums.  Op die breiforums kla die dames oor die patrone wat nie genoeg detail bevat nie.  Die doen-dit-jouself forums het dit weer teen verkeerde raad wat mense op die bladsy plaas.  Die leesforum kla oor die gehalte van boeke deesdae.  Die tuinforums kla oor die veranderlike weer.

En so gaan dit aan.  ‘n Uur later en ek is gereed om my polse te kou.  My hele dag is bederf.  Dis Vrydag, dis naweek . . . wie wil dit met ‘n lang gesig aanpak.

My pa het altyd gese jy kry mense wat kla en jy kry mense wat kla.  En dan kry jy nog mense wat kla.  Ek stem, kla het ‘n gewoonte geraak.   Ons kla met die witbrood onder die arm.  Party met ‘n swartwoudkersiekoek.  As jy nie hou van ‘n forum, of ‘n boek of ‘n fliek of ‘n televisiereeks of watookal, moenie jouself verder kasty nie.  Verlaat die groep, gee die boek terug, kyk ‘n ander fliek, verander die kanaal of sit alles af en gaan slaap.

Maar in vadersnaam . . . hou op met kla.  Die lewe is kort en kosbaar,  spandeer jou tyd aan die dinge wat positief is.  Hoekom jouself elke dag self kasty as die lewe dit vir jou ongevraagd doen?

Ek is mal oor mense wat kan lag, vir hulleself en vir die lewe!!

En hier aan die einde, besef ek met ‘n skok . . . hier doen ek dan presies dieselfde . . . kla oor mense wat klakouse is!!!

Oe-heh-eh!!

©

Sit jou hart op papier

oor 'n koppie koffie

 

Alhoewel ek nou nie ‘n Nobelprys sal wen vir Letterkunde nie is ek mal daaroor om te skryf.  ‘n Vriendin van my spot altyd en sê as iemand my vra om ‘n doodsberig te skryf, eindig ek op met ‘n outobiografie van die oorledene.  My vorige huisdokter het gesê dit is goed ek skryf, want dan kom al die gemors uit my sisteem.  My prokureur reken weer ek praat te veel en gee te veel inligting ongevraagd uit. 

Persoonlik dink ek dit is omdat ek so baie stilgemaak was in die klas.  Ek voel soos die seuntjie van ‘n vriendin wat gekla het hy hou nie van kerk nie, want net die dominee mag praat.  Aan die beginjare van ons huwelik het manlief al briewe by die ketel gekry (ek kry koffie in die bed) as ek my links gegooi het oor iets wat (ek dink) hy aangevang het en hy nie eers daarvan bewus is nie.  Die kinders het my met ‘n “wat het ek nou weer verkeerd gedoen” uitdrukking geloer as ek ‘n briefie in hul hand gestop het.

Pla of plesier iets my in die koerant, skryf ek ‘n brief – in so ‘n mate dat ek dink die dagkoerant het my op hul swartlys gesit.  Opgeprobeer om weer iets van my kant te laat hoor, maar onsuksesvol – nêrens verskyn my briewe nie, en nie eers almal was klaagliedere nie!

Na skool het ek ‘n aanlegtoets by die destydse Mannekrag afgelê.  Die bedryfsielkundige vra vir my (na die aflegging) waarom ek nie joernalistiek gaan swot nie.  In  my onkunde (destyds was vroue goed vir verpleging – ek het nie geduld nie, onderwyseresse – ek sou ‘n kind se nek omdraai die eerste dag of BA graad – wat onder ons klomp bekendgestaan het as mansoek-graad en daarom uit was soos neuskrap in die kerk . . . kyk waar draai ek alweer) het ek gedink die man wil hê ek moet voor ‘n persoon staan en vra “hoekom het jy jou man vermoor”.

Nooit in my wildste drome gedink ek kon eintlik stories geskryf het nie.  En dalk vandag onder die geteldes getel het.  Boekpryse losgeslaan het, toekennings ontvang het, ‘n glanspersoon gewees het.  Maar nee, as jy jonk is, is jy mos slim – dink jy weet alles , en vra niks.  Met my ma se dood toe ek elf jaar oud was en pa wat baie, baie hard moes werk om manalleen na sy vyf moederlose kindertjies te kyk, was daar nie tyd vir baie gesels nie.

Maar hier is ek nou – nog altyd lief vir skryf.  ‘n Ander vriendin stel voor dat ek, met die resessie wat tans nog op MY troon sit en regeer,  elke oggend “morning papers” skryf.  Dit is om elke oggend rustig te raak, jou kop skoon te maak en alles wat in jou gedagtes kom, op papier neer te skryf.  Om al jou drome, jou vrese, jou ideale, jou frustrasies, jou “om-te-doen” lysies – alles wat in jou hart is, op papier neer te sit.  Met die resessie nogsteeds in my hart het ek elke denkbare woord neergeskryf – skuld, swaarkry, depressie, mislukking, nagmerries, ellendes, prokureursbriewe en nog ‘n hele woordeboek vol negatiewe gedagtes.

So kyk ek onlangs na ‘n DVD oor ‘n motiveringspraatjie en ek besef ek is besig om myself in ‘n put te skryf.  So diep was ek dat as hulle my ontbyt in die oggend sou afstuur, ek dit eers teen middernag sou kry vir ‘n snêk!  Net daar besluit ek om vir my ‘n plakboek te maak met positiewe woorde en gedagtes, en was ek verras met die pragtigste woorde denkbaar, en dit in my eie taal.

Bederf, glimlag, toekoms, vrouwees, lag, geluk, hart, reënboog, siel, gered, oorvloed, skitter, musiek, glo, ontvang, sing, sielsvreugde, liefdevol, dolgelukkig, wenners, hoop, kampioen, passie, wysheid, herrinneringe, verandering, drome, voorspoed, vrede, beskerm, ontdek, dans, leer, vertroue, ontwikkel, leef, feesvier, keuse, skat, dankbaar, gesondheid, kleinnood, sukses, bewonder, oorleef, respek, ondervinding en ‘n duisend ander.

Vandag is ‘n nuwe dag en elke dag is dié dag dat ek positief dink en leef – en net om te keer dat die donker put my roep, sit ek elke dag (die dinge waarvoor ek dankbaar is) my hart op papier!!

Lorraine