2 Halwes is nie noodwendig ‘n hele nie

Soms voel dit vir my asof my lewe net uit halwes bestaan. Dit is ook heeltemal my eie skuld, want ek doen alles half-half. In my kaste lê ‘n klompie projekte wat ek deur die jare aangepak het, nog nie een is klaar nie.

En dit laat my nogal bekommerd. Oor ek nie goed kan afhandel nie, of nog slegter – sodra ek ‘n nuwe projek aanpak en dit redelik goed kan doen, raak ek verveeld en soek ek alweer na iets nuut om my te stimuleer. Lê die ander goed net so ongebruik rond.

Ek het so bietjie gaan loer na woorde wat met half- begin en gaan vasstel of dit altyd sleg is – of is daar iets goeds daaraan?

Halfpad – dit is nogal moeilik. Jy is nog nie daar nie, maar jy het ook darem al aanbeweeg.

Dit geld vir baie dinge in ons lewe en dit kan een van twee dinge beteken. Jy sukkel om tot die eindpunt te kom waarmee jy besig is óf jy wil nie regtig wegbeweeg van jou gemaksone nie. Jy beweeg net so ver sodat dit maklik is om weer om te draai en terug te kom waar jy veilig voel.

Halfhartig – dit is iets wat ons almal baie goed ken. Die projek wat ons moet begin, die huis wat skoongemaak moet word, lewenstake wat aangepak moet word, ons houding teenoor ons naaste, vriendskappe wat aangeknoop word, ons huwelikke en ons eie idees oor sekere goed in die lewe.

Ons wil dit doen, maar dit klink dan nou skielik na werk, na opofferings, na ‘n sukkel-sukkel bestaan. Die lewe is al so gekompliseerd en dan moet ons nog na hierdie goed ook omsien. Ons doen, maar ons doen dit tog so halfhartig.

Halfmas – soms voel dit vir my asof my ou lewensvlaggie meeste van die tyd halfmas hang. Kry ek nie genoeg motivering vir die dag nie. Ek skrop soos ‘n hoender, ‘n bietjie hier en ‘n bietjie daar – kom tot niks. So gaan die dag verby en môre hang my vlaggie nog laer.

Halftyd – enige iets wat ons aanpak, het ‘n halftyd nodig. Dis dan (soos sportmense en in hierdie geval rugby) die afrigter sy span wys op hulle foute en hulle motiveer om dit te gaan regstel. Anders gaan hulle verloor. Die probleem is dat met baie van ons is ons halftyd langer en meer uitgerek as die wedstryd wat ons moet speel. Maak ons so baie nuwe regstellende planne – maar dit is al waar dit bly.

Hal(f)veer – ons lewe in so ‘n gejaagde tyd dat ons die helfte van ons lewe verkort met stres, status-najaag en sielkundige probleme. Ons jaag ons dood na niks. Hardloop agter die wind aan. Koop kitskos en soek kitsrykdom en as dit nie werk nie, soek ons kitsoplossings vir ons probleme. Ons het nie meer tyd nie, nie vir onsself, ons gesinne of ons medemens nie. Ons moet eerder teruggaan na die basiese dinge in ons lewe.

Gaan vind jou anker, jou rots – jou vastigheid onder jou voete. Besluit vir wie jy gaan nee sê sonder om skuldig te voel. Spandeer minder tyd voor die televisie en meer tyd saam met jou man en kinders – en as jy gelukkig is, met jou kleinkinders. Maak meer tyd vir jouself want as jy gelukkig is, is die om jou ook gelukkig.

Dalk moet ons almal eers ons halwes bymekaar kry, dit klaarmaak en die heles so stuk-stuk uitstal. Al is dit net in jou kop of in jou hart. Dan eers kan ons volledig ons eie storie skryf en dít is nie ‘n halwe waarheid nie!

Drome of nagmerries

oor 'n koppie koffie  

Uit pure verveeldheid kyk ek gisteraand ‘n DVD, Pirates of the Carribean – Dead man’s Chest.  Glad nie my tipe vermaak nie, maar as ek verveeld is, lees ek tot die kinders se ou geskiedenis- en aardrykskunde handboeke.  Moenie laat daar van my gesê word dat ek net prentjies kyk nie.  Met al hierdie drogbeelde nog vars in my gedagtes, gaan slaap ek toe later. 

Ek moes dit geweet het, droom sal ek droom hieroor.  Van kleinsaf het ek die gawe om elke dag my drome te onthou, a is dit net vir ‘n dag of twee.  Gewoonlik dit wat ek sien, hoor of ervaar in die dag, het ‘n duidelike invloed op my drome. 

Vanoggend is ek skoon moeg, my bene behoorlik lam toe ek wakker skrik, nes asof ek regtig weggehardloop het vir die monsters.  Hulle (my bene) was skoon swaar van moegheid, my hart het geklop teen die spoed van lig en ek was papnat gesweet. 

‘n Rukkie terug het ek ‘n interessante dokumentêr gesien waar hulle Olimpiese Spele-atlete aan masjiene koppel en dan moes hierdie atlete in hul verbeelding die wedloop aflê.  Verstom het die wetenskaplikes opgemerk dat dieselfde spierreflekse en inspanning gebruik word soos wanneer hierdie atlete die wedloop fisies sou aflê. 

Dit is seker dan hoekom my bene so moeg was, want in my drome het ek weggehardloop, was ek vol vrees vir hierdie monsters en hul gemaskerde vriende (daar is mos niemand wat vir my sê : “dis OK, jy kan maar ontspan, dit is net ‘n droom” nie).

Wat my weer laat dink – mors ons nie ook maar soms goeie energie en tyd aan negatiewe dinge nie?  Laat ons ons rondjaag, helder oordag, deur monsters wat ons lees, hoor en ervaar nie.  As ons soggens die koerante oopmaak, sommer nog op die voorblad, is daar slegte nuus.  Begin ons die dag sleg as ons nuus op televisie kyk.  Die verkeer is sleg, die radio is aan en ons luister nuus – moord, verkragting, roof, korrupsie.  Hierdie beelde bly heeldag in ons gedagtes en neem alle goeie en positiewe gedagtes weg van ons. 

Ek maak deesdae ‘n punt daarvan om soggens saam met my koffie na mooi musiek te luister.  Al kry ek tyd net vir een of twee snitte.  Ek het op my rekenaar ‘n paar fotos waarvoor ek nooit moeg word om na te kyk nie.  Van hulle is natuurfotos, ander is fotos van my gesin, familie, vriende en ‘n paar ander wat vir my laat dink aan lekker tye in my lewe. 

Met my musiek, my koffie en hierdie fotos, o ja – en my “morning papers” – spandeer ek dan my eerste halfuur of uur soggens vroeg aan positiewe dinge.  Kry ek dan terselfdertyd tyd om dankie te sê vir hierdie dinge in my lewe.  Want as jy kan dankbaar wees vir dit wat jy het, hoe klein of hoe min, glo ek sal daar nog meer op jou lewenspad kom.  Dit is goeie energie wat jy uitstraal en hierdie goeie energie beskerm jou sommer teen alle onheil. Is die res van die dag ‘n droom in plaas van ‘n nagmerrie waar ek al my energie en tyd moet spandeer om van my af weg te hou!!

Mag jou dag vandag soos ‘n droom verbygaan – een vol lekkerte waar jou tone eintlik omkrul by die herrinneringe hiervan en die smaak van die mooi dag soos heuning nog lank aan jou verhemelte klou en jy kort-kort die smaak daarvan kan proe.  Mag ons onsself besig hou met die mooi van die natuur, ons passie vir die lewe en ons liefde vir ons dierbares.

 Lorraine