Vrede op aarde

 

forgiveness

 

Die afgelope tyd het ek baie gewonder oor die betekenis van die woord vrede.  Ja, dit beteken gewoonlik om die vrede te bewaar, om in vrede te leef, of dit na te jaag.  Selfs om dit te verkondig.

Hoe meer ek daaroor dink hoe meer besef ek dat vrede ‘n groot verantwoordelikheid van ons verwag.  Maklik om hierdie vrede te bewaar/behou/onderhou as dit alreeds daar is.

Maar vrede (vir my altans) vra ook om te vergewe.  Dis gewoonlik daar waar die probleem inkom.  Vergifnis.  Of selektiewe vergifnis.  Ek verwag vergifnis, maar is nie bereid om ander te vergewe nie.  Dit hang natuurlik ook baie af van wie dit is wie jy moet vergewe.

Meestal vergeet ons gerieflikheidshalwe hoe ons sou optree as ons in daardie persoon se skoene sou staan.  Is ons dan beter as hulle wat ons pyn en lyding veroorsaak het?  Juis deur ons onvergewensgesindheid?

Boonop vra vergifnis dat jy moet werk.  Hande uitsteek, uitreik, meeste van die tyd die eerste tree na vrede gee.  Soms misluk dit, maar hoe kan ons kla daaroor as ons nie wil probeer nie.  Dit vra om jouself vir eenkeer nie eerste te stel nie.  Om jou ook nie blind te staar teen valse trots nie.

Vergifnis is om jouself los te maak van die pyn wat ander jou toegedien het.  Wanneer albei partye weer hande vashou (nie noodwendig letterlik nie) kan die werklike heling begin.  

Vergifnis is net ‘n armlengte en ‘n hartklop en ‘n hartsverandering ver . . .

Fotobron : Internet

Watter soort blom is jy?

Nou dat Lente amper hier is (jippie!!!!) begin my kop weer na die tuin staan.  Is ek lus vir kleur na die verskriklike koue winter waar alles in die Vrystaat verdor tot ‘n melankoliekerige kleur van ‘n lewelose wit en vaalgeel.  Kry ek lus vir bessierooi, purperpers, goudgeel, spookasempienk en kobaltblou kleure in my tuin. 

Min mense wat my ken weet dat die rooi hisbiskus my gunsteling blom is.  Daar is iets omtrent hierdie blom wat met my siel werfskaf.  Het hoeka vir manlief gesê die dag as ek oorle hoef hy nie my graf met vars blomme te bedek nie.  Plant vir my eerder ‘n bloedrooi hisbiskus.  Twee sal ook “nice” wees.  Ek kan terselfdertyd in die koelte lê, my vel brand hoeka tog te vinnig en ek kan my terselfdertyd verlekker aan die mooi kleure.

Lank terug roep ‘n vrou my agterna terwyl ek wegstap.  Ons het mekaar geken maar nie as vriendinne nie.  Net nou en dan op straat of in winkels mekaar gegroet en hier en daar ‘n paar woorde gewissel. 

 Hierdie spesifieke dag sê sy vir my, “Weet jy, ek wou al lankal vir jou sê jy laat my altyd aan ‘n bloedrooi hisbiskus dink.”  Daar staan ek, skoon verstom ~ en die volgende oomblik huil ek dat die biesies bewe.

Die arme vrou is in ‘n toestand, vra wat het sy verkeerd gesê en ek probeer vir haar verduidelik sy het alles reg gesê.  Ek was juis die dag op ‘n laagte en my selfbeeld was nie op standaard nie en hier kom sy en sê ek laat haar dink aan my geliefkoosde blom. 

Dit was mooipraat om haar beter te laat voel, maar of sy ooit sal verstaan wat sy daardie dag vir my beteken het, dit weet ek nie.  Ek was op ‘n wolk.  Dat ‘n paar woorde my so vinnig uit die as kon tel! 

Van daardie dag af probeer ek om mense as blomme te sien.  Daar is ‘n paar rose, sonneblomme, sweet-peas, lelies en viooltjies onder my vriendinne en kennisse.  En daar is ook ‘n kaktus of twee. As jy die dorings miskyk en dit mooi hanteer is hulle net so pragtig soos die ander blomme.

Watter blom is jy?  Hoe sien jy jouself in hierdie wêreld waar water en kunsmis (liefde, vergifnis, aanvaarding ens) maar skaars is?  ‘n Wêreld waar ons mekaar eerder flenters trap onder ons voete en die versorging en instandhouding van vriendskappe maar yl gesaai is?

Kan jy blom sonder die nodige instandhouding, of is jy die tuinier wat van een blom na ‘n ander blom hardloop met die tuinslang maar in die proses nooit ‘n druppel water vir jouself oorhou nie?

Laat ons blom, nie net vir die oog van ander nie, maar ook vir die selfbevrediging wat dit aan onsself gee.