Propvol, oorvol, gatvol

 

Die afgelope paar jare (en veral 2020, 2021 en 2022) is ons oorlaai met inligting op sosiale media. Die negatief by verre in die meerderheid. Vandag het ek my limiet bereik. Ek is propvol, oorvol, maar veral gatvol.

Sameswering teorieë, die realiteit van die woke kultuur, COVID19, politiek – veral sleg – het ons oorval. Dood, siekte, inenting rusies, werkloosheid, vallende ekonomie, haatspraak, moord en lyding het ons lewe en ons denke kom oorneem.

Skole en kerke was meestal gesluit. Strukture tot stilstand gekom, departementele afdelings was meer toe as oop. Kinders is tussen werk en familie en vriende afgelaai. Oumense was vergete en afgesonderd in tehuise. Geliefdes moes alleen sterf sonder familie by hul sterfbed.

2020 het ons geboelie. Aan die keel en hare en korthare beetgekry en ons geskud. Ons het vanaf 2020 net een konstant gehad. Maskers en handewas en lockdowns. Sosiale afstand was maar min gehandhaaf.

Ons het gewig aangesit en ons het ons breinkrag verloor. Kinders en ouers sit voor die TV. Menigmaal nie met die beste opsies nie. En as dit nie die TV is nie, is dit selfone, tablette en rekenaars en X boxes.

Mense is gebombadeer met elkeen wat dink hy is ‘n viroloog, mediese dokter, analis, navorsing of watookal. Elkeen is reg en al die ander is verkeerd. Hoe arrogant het ons nie geword nie. Ons en julle. Hulle en julle.

Dan die nuwe tendens . . . vrae op vrae. Nuttelose vrae oor as jy slim is sal jy dalk een woord kry wat met T begin en T eindig. En almal spring in, ek inkluis aan die begin, tot ek besef het wat ‘n klug. Daar is honderde woorde wat met elke letter van die dekselse alfabet begin en met dieselfde letter eindig. En ons val daarvoor.

Deesdae is die vrae meer absurd op Facebook. En almal doen wat Simple Simon doen. As Simple Simon hande klap, dan klap ons ook maar saam. Sonder om te dink want dink het uit die mode geraak.

Ons redeneer nie meer nie. Ons is soos ‘n klomp zombies. Rigtingloos, doelloos, ankerloos, hopeloos. Kop in skouers getrek, oë grond toe. Een voet voor die ander.

Waarheen is ons oppad? Dis ‘n vraag wat my deesdae teister. Hoe gaan ons lyk oor tien jaar? Doen ons nog iets wat verder as ‘n skerm strek?

Het vanoggend iets gelees wat hierdie hele dinkding aan die dink gesit het. Ons moet onsself herprogrammeer vir die toekoms anders voorsien ek meer sosiale probleme as die huidige agteruitgang van mense en hul breinaktiwiteite. Dit wat ons doen en sê en uitdra, oordra het nodig om deur ‘n fabrieks herinstelling te gaan.

Dit het tyd geword vir langer stapsessies, mooier boeke, meer musiek. Geniet meer sonsondergange, hou meer hande vas. Rits rond in jou nabye omgewing, wees liewer vir jouself en respekteer ander, al verskil hulle van jou.

Lag meer, hê meer pret, praat meer, luister nog meer. Maak jou eie herinneringe, doen wat vir jou lekker is. Soek na dinge wat jou inspireer, dinge wat hou aspireer, al beteken dit jy moet perspireer. Dinge wat jou nie eensaam laat voel in ‘n oorvol, propvol, gatvol wêreld nie.

As ons net daarop kan fokus sal ons wêreld weer ‘n lekker plek word. Om nie eers te praat van ons lewe nie!

Ek sien uit!

~Lorraine Weitz Brand~❤️

Kopiereg voorbehou

Fotobron * Pinterest

Warm tot baie warm . . .

11598503-children-fishing-in-a-river-nostalgic-aged-sepia-tone

Ek lê hier op my bed, ‘n waaier van die dak en een langs my en nogsteeds tap die sweet van my af.  Elke jaar as dit winter is sweer ek ek sal nie weer kla oor die somer nie.  Tot dae soos vandag.  My brose lyfie en my ouderdom kan nie meer die uiterstes hanteer nie.

Vandag verlang ek na ‘n plaasdam wat ons nooit gehad het nie.  Ek was altyd so jaloers as my maters na ‘n naweek terugkom koshuis toe en vertel van ure se plesier-swem in ‘n plaasdam.  Ek kon my net voorstel . . . ‘n gelag en ‘n geplons terwyl tortelduiwe op nabye takke sit en die gejillery aanskou.

Dis dae soos vandag dat ek wens waatlemoene was nog twee vir R20.  Soet en rooi as Pa dit in skywe sny.  Die waatlemoen-smeerdery agterna was baie pret.  En dan, as jy so taai is dat jou vingers aanmekaar kleef word die soet en die taai en die warm van jou lyf afgespuit met ‘n tuinslang.  Wat natuurlik weer vir nog pret sorg.

Dan is dit ook die dae wat ek roomyskarretjies mis.  Wat van veraf sy klokkie lui soos hy afkom in die straat.  En ma’s en pa’s rondskarrel om los sente te kry om vir elkeen ‘n vrugte-yssie te koop.  Of, as dit goed gaan . . . ‘n regte “cherry top” . . .

Ek mis die speletjies wat ons in die aande gespeel het.  Wegkruipertjie, vrot-eier, koljander-deur-die-bos . . . en die buurt se kinders wat almal sommer vir ai-tog-dis-lekker om die blok stap.  Niemand wat jou veiligheid bedreig nie.  Geen wonder obesiteit was nog nie so ‘n krisis nie. Ons het meer as genoeg oefening gehad.

Toe ek groter word, het ons saans na ete buite gesit.  Op tuinstelle wat sulke diamantpatroontjies op jou vel gemaak het.  Daar het ons gesit en soveel onthou-jy-nogs uitgepak.  Meestal het ons gelag dat die trane loop en soms het ons ‘n traan gepik oor iemand wat alreeds nie meer met ons was nie.

Drome is gedroom.  Alle vrese is besweer.  Alledaagse krisisse is in perspektief gebring en sou jy ‘n bietjie grootkoppig en hardkoppig wees het jou sibbe jou vinnig teruggebring aarde toe.  Daar was nie tyd vir houdinkies nie.

Buite het dit geruik na grond, na varsgesnyde grasperke, die chloor in die spreiers wat so tik-tik-tik die grasperke en akkers natlei.  En skoon lug.  Orals het jy mense gehoor lag, gesels, verby jou huis geloop en geselsies aangeknoop.  Almal het almal geken.  Vandag ken ek nogsteeds nie my bure nie.

Die samelewing van vandag misgun ons kinders om soos ons van ouds saans op die gras te le en na die sterre te kyk.  As die hitte jou uit die huis jaag, le ons almal op die gras op ons rug.  Soek ons komete en sterre-prentjies aan die hemelhange.  Skoon vergete van die hitte wat druk.

Ek mis ook die stoepslapery.  Waar jy jou matras uitpak op die stoep en in rus en vrede ‘n koele nagrus kon beleef.  Vandag is dit selfs onveilig in jou eie huis agter slot en grendel te slaap.

As die hitte te erg geraak het, het Pa ons in die kar gelaai en dorp toe gery waar ons “window shopping gedoen het” . . .  altans, die grootmense.  Ons kinders het na hartelus saamgedrentel, mekaar besig gehou . . . enigeiets net om van die hitte van die huis weg te kom.

Ek mis die sorgvrye dae van die somer.  Waar ons so besig gehou was dat die hitte selde ‘n stopstraat geword het.  Waar die hitte ons nie teruggehou het van pret en plesier nie.  Waar hitte jou gedwing het om die natuur te geniet.  Om nuwe dinge te ontdek.  Om jou humeur, jou gemoed en jou lyf af te koel.

Dis meestal in die hitte buite ons huis dat ek weer mens geword het.  In die teenwoordigheid van hulle wat vir my lief was en my aanvaar het vir wie ek is.

Fotobron : Internet