Salsa di Pommodoro


Laat ek dit nou maar erken, ek is nie ‘n vegetariër nie en eet selde (behalwe slaai) nie graag iets sonder ‘n stukkie vleis nie.  Maar hierdie sous is so flippen lekker, ek kan nie ophou nie!  Twee van my pa se susters was getroud met Italianers – do I need to say more????  Dis vinnig, relatief goedkoop, en as jy die goed in die huis hou, kan kuiergaste jou nooit onkant betrap nie.  Probeer gerus.  En moenie laat die naam jou afsit nie, maar so ‘n lekker sous verdien ‘n fancy naam.  Ek kook die sous, halveer dit en vries die res vir ‘n latere gebruik.

2 blikke heel tamaties (ek gebruik slegs dié van Fruit & Veg – blou blik)
1 blikkie tamatiepasta (125g)
handvol vars basilliekruid
1 ui, fyn gekap
3 knoffelhuisies (jy kan minder ook gebruik as jy wil)
bietjie olie
Sout en Peper
125ml rooiwys (opsioneel – ek mis dit nie eintlik as ek dit nie byvoeg nie)

Braai die uie en knoffel saam in olie. 
Voeg blikkies tamaties en tamatiepasta by.
Sny/breek basilliekruid in klein stukkies en voeg by.
Voeg sout en peper by.
As jy wil, gooi die wyn by, anders kan jy dit eerder drink! (“,)
Moenie water bygooi nie.  Die tamaties het genoeg vloeistof.
Kook vir so 20 minute op lae hitte.
Ek druk net voor opdiening die hele gedoente sommer met my “masher” fyn.  Ek hou nogal daarvan as dit nie puree-fyn is nie.

Bedien warm met fettucini, tagliatelle of enige ander pasta.  (Die sous is genoeg vir 1 pak pasta)
Strooi vars gerasperde pecorino/parmesan/gruyere of kaas van jou keuse oor.

Lekker eet!