Foto-Pretsel 9

 

Gee jy soms voor wie jy nie is nie?  Jaag  jy jou dood om daardie bekende persoon se haarstyl, klerestyl of leefstyl na te boots?  Wie is jy dan?

Rozanne, ‘n meisiekind wat saam met my jongste in die skool was, (tydens ‘n persoonlikheid van die jaar onderhoud) was gevra soos wie sou sy graag wou wees.  Haar eerlike antwoord was :  “As ek soos iemand anders wil wees, wie gaan dan Rozanne wees.  Ek is myself.  Niemand kan dit so goed doen soos ek nie.”

Eenvoudige woorde van ‘n jongmens, maar ongelooflike waar woorde.

Donderdag blues

IMG_6183

Soms . . . net soms wil ek ‘n vloermoer gooi.  Raak dinge vir my te veel.  Maak nie saak hoe hard ek probeer nie, daar sal altyd iets gebeur wat vir Katryn uit die kôt gooi. 

Vandag was weer so ‘n dag.  Alles het volgens plan verloop, ek het ‘n klomp dinge afgehandel,  dit het vir my gevoel ek maak vordering, ek sien weer lig in die tonnel.  Min wetend dat dit die TransKaroo is wat van vooraf oppad is iewers heen.

Net een klein dingetjie en my gemoed verander drasties.  Lê ek op my bed, die Donderdag blues het my lyf oorgeneem en ek het nie eers flippen roomys om my beter te laat voel nie.  Ek het gisteraand sleg geslaap – dalk sou ek dan anders gereageer het as ek uitgerus was.

Hoe hanteer jy hindernisse in jou lewe? Oor die algemeen sien ek dit vir wat dit is, raak.  Vandag sien ek nét die hindernis raak.  Vanaand gaan ek vroeg slaap.  

Dalk lyk dinge more beter in die daglig.  Dalk kan ek bietjie buite die boks dink!