Foto-pretsel No 13

tuin4

Ai ai, as daar een ding is wat ek nie kan hanteer nie is dit mense wat van alles ‘n krisis wil maak, of ‘n drama.  Of sommer net die gewone gang van die lewe wil kompliseer deur derms te ryg, te was en weer te ryg.  Dit raak net te veel.  Soms is dit beter om om te draai of stil te bly en weg te loop.

Ek het eendag aan ons predikant gese ek wens ek kan soms vinniger reageer as iemand my aanval of beledig.  Gewoonlik slaan ek toe (heel verstom) en dan wanneer die persoon weg is en ek tot verhaal kom het ek al die antwoorde.

Sy antwoord was ‘n uitklophou . . . “Onthou Lorraine, jou swakste eienskap is meestal oor jou sterkste eienskap.”  My natuurlik ‘n maand en ‘n aand geneem om dit te snap.

Ek stem nou saam met hom.  Soms is dit beter om stil te bly. As ek ook in ‘n woorde-oorlog betrokke wil raak gaan dit ‘n groter probleem veroorsaak.  Nie dat ek mense toelaat om oor my te loop nie, maar dit gee my tyd om my woorde beter te kies.  Teen daardie tyd het die persoon dalk alreeds spyt gekry.

Ons is geneig om die lewe te wil kompliseer . . . en eintlik is dit doodeenvoudig.

©

Foto-Pretsel 12

Is verbasend hoe partymense met so ‘n “moeggebore” uitdrukking op hulle gesigte rondloop.  Die lewe is net eenvoudig te veel.  Hulle kan nie meer so voortgaan nie, die lewe is een pynigende hel op aarde.

En nee, ek praat nie oor mense wat werklike truamas moes deurgaan nie, of terminaal siek is, of dierbares aan die dood moes afstaan of weens die resessie al hul besittings en drome verloor het nie.

Ek praat van mense wat sonder rede kla, sonder rede kortaf (lees ongemanierd) is, wat mense as ‘n reël afjak, verneder en verkleineer.  Wat met alles ontevrede is, wat niks mooi en goeds in ander of in die lewe raaksien nie.

Geen wonder hulle is sielsmoeg in die aand nie.  Dit sal my ook tap van energie en positiwiteit.