Foto-Pretsel 12

Is verbasend hoe partymense met so ‘n “moeggebore” uitdrukking op hulle gesigte rondloop.  Die lewe is net eenvoudig te veel.  Hulle kan nie meer so voortgaan nie, die lewe is een pynigende hel op aarde.

En nee, ek praat nie oor mense wat werklike truamas moes deurgaan nie, of terminaal siek is, of dierbares aan die dood moes afstaan of weens die resessie al hul besittings en drome verloor het nie.

Ek praat van mense wat sonder rede kla, sonder rede kortaf (lees ongemanierd) is, wat mense as ‘n reël afjak, verneder en verkleineer.  Wat met alles ontevrede is, wat niks mooi en goeds in ander of in die lewe raaksien nie.

Geen wonder hulle is sielsmoeg in die aand nie.  Dit sal my ook tap van energie en positiwiteit.

Foto-Pretsel 10

Die pad vorentoe lyk soms so nou en ver dat ‘n mens jou maklik kan verbeel jy sal nooit daar uitkom nie. 

So voel ek ook as ek my oor die toekoms bekommer.  Dit lyk asof daar nie ‘n einde gaan kom aan my probleme nie en die uitkoms is onseker  . . . wie kan sê wat wag vir my in die toekoms en nog erger . . . sal ek dit kan hanteer? 

Om nou al te tob oor die toekoms maak ‘n mens moeg, dit put jou energie en veroorsaak dat jy paniekerig raak.

Stap die pad . . . treëtjie vir treëtjie ~ en voor jy jou kom kry is jy daar en besef  jy die pad is eintlik net so breed soos toe jy hom begin stap het. 

Hanteer jou bekommernisse ook so, een dag op ‘n slag !

Foto-pretsel 8

Ek besef maar net weer elke dag hoe bevoorreg ‘n mens  is om jou al jou kinders/skoonkinders gelyketyd om jou etenstafel te kan hê. 

Dat dit nog vir hulle lekker is om “huistoe” te kan kom en ma en pa se kos te geniet.  ‘n Tweede huis – waar hulle nog kan loer wat is in die yskas, om te proe uit die potte terwyl ek kosmaak en soms met hulle voete op die banke te lê. 

Dit is hierdie oomblikke wat ek verewig in my hart vaslê.  My kosbaarhede, my kleinnode, my lewe . . .

 

Genoeg is genoeg!!!

Vandag was die laaste dag wat ons kon registreer om in die munisipale verkiesings te kan stem.  Elkeen van ons se stem maak ‘n verskil. 

Die Chinese het ‘n goeie spreekwoord wat lui; “dit maak nie saak of die kat wit of swart is nie,  solank die kat net die muise vang.” En dit is wat ek van regering verwag. 

Ek gee nie om wie die land regeer nie, solank hulle dit net goed doen.  Suid-Afrika is moeg vir beloftes, vir korrupsie en vir mooi vra (of liewers smeek). 

Komaan mense, dit help nie ons staan en kla maar ons is nie bereid om te gaan stem nie.

Stem met jou verstand en nie met jou hart nie!