Is ek ‘n rassis . . .

rose

Ek haat wit en ek haat swart.  Bring geen vreugde in my lewe nie.  Noem my maar ‘n rassis . . . ek gee nie om nie.  Op my brose ouderdom hoef ek nie meer voor te gee nie.  Maar voor jy my van jou verjaarsdag-, kersfeeslysie of facebook afhaal, lees darem net eers klaar.  Jy mag dalk met my saamstem aan die einde vn die relaas.

Gee my veel eerder kleur . . . veral helder en donker edelsteenkleure . . . robynrooi, smaraggroen, koningsblou, skeloranje, purperpers, sonneblomgeel, ougoud . . . met hierdie kleure tooi ek my lewe.

Ek sien mense in kleur (behalwe wit en swart) . . . mense  wat mal is oor die lewe is goud-magrietjie-geel.  Daardie persoon wat treur oor ‘n geliefde is purper-pers.  My vriendinne wat graag saamkuier oor ‘n koppie  koffie is helder-oranje.  My man se liefde is vlam-rooi.  My kinders se kuiers is woud-groen, rustig en lekker . . . met die essens van saamwees wat nog lank in my wese le-plek kry nadat hulle weg is.  Bekommerde mense is blou . . . vanaf ligblou tot donker blou.

My kleinkind is bont . . . net so vrolik en opgewek en nuuskierig oor die lewe.   Hoogmoedige en hooghartige mense is goedkoop silwer, wyse mense is ou-goud.  Dierbares wat moeilike tye beleef is brons.  Mense met geen waardes en morele beginsels is deurskynend.  Iemand wat haarself gevind het in die lewe is olyfgroen, die wat nog soek is duif-grys.

Vir elke mens is daar ‘n kleur.  Ongeag sy kleur.  Ek is verby die stadium waar wit en swart ‘n rol in my denkwyse oor mense speel.

Kleurvol, pastelle of ‘n mengelmoes van kleure en mense . . . dit is die dinge wat my die meeste gelukkig maak in die lewe!!

©

 

Soek die regte mense . . .

 

 

Vandag, meer as ooit tevore, besef ek hoe belangrik dit is om jou te omring met die regte mense.  Nie die met geld, aansien of glorie nie, maar die wat jou motiveer, inspireer en opbou.  Iemand met ‘n sagte mond, ‘n sagte hand . . . ‘n sagte hart.

Mens hoor so gereeld van mense wat selfmoord pleeg en dan daar altyd  ‘n stemmetjie vir my of daar nie dalk iemand was wat daardie persoon so seergemaak het, afgeknou of selfs ‘n lelike woord toegesnou het nie.  Was daardie woorde dalk die laaste woorde wat iemand met hom gepraat het?  Kon ‘n sagter woord, hand of hart nie die persoon se lewe gered het nie?

Partymense is sommer net pleinweg onbeskof.  Skuil agter die “ek is maar net reguit” verskoning.  Nonsens.  Wie wil so leef.  Om heeltyd aanmerkings en opmerkings te maak wat ander mense afsit, selfs diep seermaak.   Ek glo vas dat dit mense met ‘n lae selfbeeld is, wat dit aan ander doen.  Hulle voel beter as hulle mense kan aftrek in plaas van optrek. 

Die mense met wie ek my ophou kom van oral.  Ryk, arm, mooi, minder mooi, mans, vroue, kinders, studente.  Slim mense en minder slim mense, pienk- geel en persmense.  Mense met skoon verledes en mense met kolle.  Oumense en jongmense.  Siek mense, gesonde mense,  maer mense en rondetjies soos ek.

Hulle het almal ‘n paar dinge in gemeen.  Hulle leef.  Hulle haal nie net asem nie.  Hulle laat mense rondom hulle hulself uitleef.  Hulle bou op, help op, kyk op.  Hulle het hoop, visie, liefde, deernis en begrip.  Vir ander . . . maar ook vir hulself.

Ons lewe in tye waar hoop aan die verdwyn is.  Waar gemoedelikheid plek maak vir stres en mondhoeke wat afwaarts neig.  Jou bure is vreemd, jou familie sien jy skaars en jou gesin is gelukkig as julle nog saam om die etenstafel verkeer.  Die mure rondom jou huis en hart is so hoog dat jy jouself nie eers meer herken nie.

Ek glo vas aan die beginsel dat as jy goeddoen (sonder dat die linkerhand weet wat die regterhand doen) aan ander, dit weer terugkom na jou toe.  Boonop is dit vir my die lekkerste gevoel om te weet ek het vandag ‘n sagte woord gehad vir iemand wat dit nodig gehad het.  ‘n Sagte hand waar iemand seer/swaarkry.  Begrip vir ander se probleme en sienings sonder om dit af te skiet. 

‘n Mens hoef nie met alles in die lewe saam te stem nie.  Dit is ook jou reg om te verskil.  Die kuns lê daarin om dit op die regte manier te doen.  Watter hartseer of kwaad steek jy weg agter die woorde waarmee jy ander kwes.  Vir my is emosionele mishandeling net so erg as fisiese mishandeling.  Soms erger.  Wonde genees . . . harte nie altyd so maklik nie.  Sommiges nooit weer nie.

As jy vanaand jou tandeborsel en jy kyk na jouself in die spieël – wat sien jy?  Kan jy met ‘n opregte hart erken jy het vandag voluit geleef?  Sonder om ander af te kraak, lelik te wees en mense se eergevoelens aan te tas.

Indien jy nee moet sê . . . ondersoek bietjie jou hart.  Haal dit uit en skrop al die kwaad en angs en liefdeloosheid af.  Smeer dit met olie van liefde, geloof en hoop. Geur dit met begrip, deernis, verdraagsaamheid en omgee.

Ek het grootgeword met die volgende woorde : Dit is nie wat jy sê wat seermaak nie, dit is hoe jy dit sê.

Ek is dankbaar vir die sonneblomvriendinne in my lewe.  Hulle leer my om my gesig na die son te draai!

Sonskyngroete vir jou!