Vrede op aarde

Ek was vir ‘n geruime tyd stil hier op Koffie-Klets.  Vir meer as een rede.  Die Vrystaatse winter het my hierdie jaar “solid” gevang, in ‘n kombers van depressie toegewikkel en voor die verwarmer gesit om nog verder te broei.  Ek sukkel met die koue, wit en rypgevrekte landskap.  Dis hoekom my hart met so ‘n punt na die Kaap toe trek.  Winter daar is groen, nat en vol lewe.  Vol atmosfeer.  Ek haal asem in die Kaap se winters, is die liefde vanself en dink aan alles wat mooi is, alles wat lekker is, alles wat goed is en alles wat vredevol is.

Maar tesame met die winter wat ongenooid in my lyf kom lê het,  het daar ook ‘n anderste winter in my hart kom lê.  Een van onrus, van bekommernis oor ons mooi land.  Al die afgelope weke se geweld by die myne, moorde en familie/gesinsmoorde het my die vraag laat vra?  Waarheen is ons oppad?  Wat het geword van “the human race”. . .??

Broer draai teen broer, werkgewer en werknemer kom in opstand teen mekaar . . . die mensdom het nie meer morele waardes nie.  As 10 mense reken Kate van William moes versigtiger gewees het voor sy haar kaal borste ontbloot het (al was dit privaatgrond – hulle weet steelfotograwe is oral en onstuitbaar) is daar eerder 100 wat voel sy is reg.  Niemand wil meer verantwoordelikheid aanvaar vir hul dade nie.  Van die regering tot regdeur op skoensoolvlak.

Ouers stop kinders se hande vol geld om hulself besig te gaan hou net vir ‘n paar uur se rus en vrede.  Die televisie het die plek van opvoeder ingeneem.  Ouers en kinders s’n.  Kerke loop leeg, skole loop leeg, huwelike faal, families ruk uitmekaar . . . en die oorsaak word oral anders gesoek behalwe by onsself.

Ek hoop met die somer wat nader sal my gemoed ook lig.  Hoop ek my geloof in die mens sal weer versterk word.  Op die oomblik lyk dit maar na ‘n donker prentjie.

Vrede vir julle almal, maar bowenal . . . vrede vir ons land.

Mooi loop!

 

Lorraine