Vrede op aarde

Ek was vir ‘n geruime tyd stil hier op Koffie-Klets.  Vir meer as een rede.  Die Vrystaatse winter het my hierdie jaar “solid” gevang, in ‘n kombers van depressie toegewikkel en voor die verwarmer gesit om nog verder te broei.  Ek sukkel met die koue, wit en rypgevrekte landskap.  Dis hoekom my hart met so ‘n punt na die Kaap toe trek.  Winter daar is groen, nat en vol lewe.  Vol atmosfeer.  Ek haal asem in die Kaap se winters, is die liefde vanself en dink aan alles wat mooi is, alles wat lekker is, alles wat goed is en alles wat vredevol is.

Maar tesame met die winter wat ongenooid in my lyf kom lê het,  het daar ook ‘n anderste winter in my hart kom lê.  Een van onrus, van bekommernis oor ons mooi land.  Al die afgelope weke se geweld by die myne, moorde en familie/gesinsmoorde het my die vraag laat vra?  Waarheen is ons oppad?  Wat het geword van “the human race”. . .??

Broer draai teen broer, werkgewer en werknemer kom in opstand teen mekaar . . . die mensdom het nie meer morele waardes nie.  As 10 mense reken Kate van William moes versigtiger gewees het voor sy haar kaal borste ontbloot het (al was dit privaatgrond – hulle weet steelfotograwe is oral en onstuitbaar) is daar eerder 100 wat voel sy is reg.  Niemand wil meer verantwoordelikheid aanvaar vir hul dade nie.  Van die regering tot regdeur op skoensoolvlak.

Ouers stop kinders se hande vol geld om hulself besig te gaan hou net vir ‘n paar uur se rus en vrede.  Die televisie het die plek van opvoeder ingeneem.  Ouers en kinders s’n.  Kerke loop leeg, skole loop leeg, huwelike faal, families ruk uitmekaar . . . en die oorsaak word oral anders gesoek behalwe by onsself.

Ek hoop met die somer wat nader sal my gemoed ook lig.  Hoop ek my geloof in die mens sal weer versterk word.  Op die oomblik lyk dit maar na ‘n donker prentjie.

Vrede vir julle almal, maar bowenal . . . vrede vir ons land.

Mooi loop!

 

Lorraine
 

Kliek . . . Kliek

 

 

remote-buddy-stylish

 

Ook maar goed die brandblusser in my huis werk nie met ‘n afstandbeheer-kontrole nie.  Ek ken moeilikheid en ek ken modder, en dit sou beslis nie modder gewees het nie. 

Dis nie dat ek die ding nie gewerk kry nie, maar om die regte kontrole tussen die miljuisendes wat rondlê met die eerste opraapslag te vind sonder om paniekerig te raak, sal my al baie help.  My geluk is dat teen die tyd wat ek die regte een vind, is my huis klaar afgebrand.

Geen wonder my kinders spot en probeer my kalmeer as iets aan- of afgesit moet word nie.  “Bedaar nou ma, haal diep asem, konsentreer en fokus.  En moenie ma se arms so paniekerig rondpluk nie!  Is dit nou weer te veel knoppies?  Lyk my ma is erg tegnologies gestrem.” 

En laat ek nou toevallig my selfoon optel, dan is hulle vinnig om te vra wat ek wil ek nou weer aan- of afsit.  Kan ‘n mens nie eers meer na jou selfoon reik nie?  Vandag se kinders dink mos as jy sê hulle is met instrumente gebore, hulle onder die indruk is jy praat van instrumente wat met afstandbeheer-kontroles funksioneer.

Op die koffietafel voor die televisie lyk dit deesdae soos ‘n stalletjie op die Kaapse Parade.  Van alles en nog wat.  Daar is vir elke toerusting ‘n kontrole, van die televisie tot die DVD-speler, musieksentrum, videospeler en dan nog die lugreëling en die DSTV s’n.  En onlangs, die onheilige X-boks.

Dan is die koffiemasjien, mikrogolfoond s’n en Boeta se battery-aangedrewe motor se kontroles beland ook nog tussenin.  By dit lê die selfone ook daar, hard besig om te kompeteer met die knoppiemania.

Ons leef in ‘n gemaklike wêreld.  Ek besef deesdae dat die meeste oefeninge wat die meeste mense kry, is om knoppies te druk.  Vir die alarm, die motorhuisdeure, ons klank en beeldsentrums, rekenaars en telefone, autotellers, motors, krag en enigeiets onder hierdie son.

Ek het nou onlangs eers Adam Sandler se jongste film, Click, gesien (ja, altyd mosterd na die maal, ek weet!) en lyk dit vir my die beste ding nog naas gesnyde brood.  Dink net aan al die voordele van so ‘n “ultimate gadget”. 

Eerstens, rus en vrede vir ‘n baie, baie lang tyd.  Stilte as dit te veel lawaai, geluide as die oomblik te stil word, mooi herinneringe wat weer en weer opgeroep kan word – die slegtes vermy jy totaal en al – en al die rompslomp wat jy kan uitsny om vinnig en doeltreffend by die kern van die saak uit te kom. 

Boonop kan jy al daardie mense wat jou so grensloos irriteer en kwaadmaak, op pause sit en al die frustrasies op hul uithaal sonder die kans dat jy dalk jou werk, jou man, vryheid of iets dergeliks soos jouself sal verloor in die proses.  Padwoede-statistieke sal nie bestaan nie.

As manlief begin kerm oor die politiek, fast forward jy hom (en sommer terselfdertyd die nuus ook) tot in die toekoms, of maak jy vinnig ‘n plan as jy wag op belangrike nuus – dit sal my stresvlakke en bloeddruk dan nie so hoog opjaag nie.  Die mooi tye in my lewe sou ek oor en oor speel, my verlekker daarin en myself emosioneel weer versterk.

Maar aan die ander kant sou die lewe darem maklik in chaos kan verval. Stel jou voor ek en manlief het elkeen so ‘n geheime masjientjie en ons druk dit perongeluk op dieselfde oomblik, hy vorentoe en ek agtertoe.  Waar ontmoet ons mekaar dan? Iewers teen die voorhekkie? 

Of nog erger, sê maar ons verêrre ons op dieselfde tyd vir mekaar en druk gelyktydig die pause knoppie.  Mens, wie gaan weet van ons penarie? 

Teen die tyd wat iemand ons vind is ons dood(stil) en sal dit sekerlik die raaisel-moord in jare wees! Veral een sonder bewysstukke!  Nie eers die destydse Skerpioene sal weet wat hulle, newwermaaind ons, getref het nie.

Nee wat, daar is twee dinge waaroor ek baie bly is.  Eerstens, dat ek nie die gawe besit  om in die toekoms te kan sien nie.  Dit wat ek môre en oormôre te wagte is (waarvan ek alreeds kennis dra), is al soms al klaar te veel vir my brose lyfie.  Veral as jy weet jy kan niks daaraan doen nie. 

Want soms, op die mees onmoontlikste tye in hartseer en tragedie, gebeur die mooiste dinge ook.  Soos om iemand te ontmoet wat vir jou later ‘n kosbare vriendin word.  Word daar ook uit die hartseer iets moois gebore, die geboorte van ‘n kind of kleinkind wat jou lewe verryk en vervolmaak.  Sou jy die ellende in jou toekoms sien, sou jy jou paadjie dalk anders laat verloop het – sonder die kans om nuwe dinge en mense te ontmoet en te ervaar.

En tweedens is dat niemand so baie van my gehou het om vir my so ‘n Click-afstandbeheerkontrole te gee nie.  Veral nie vir Kersfees nie.  Maar aan die anderkant sou ek graag die lekkerte van saamwees met my man en kinders en familie in die feesseisoen wil vashou en weer en weer wou herleef. Veral in vandag se besige en materialistiese lewe. En siende dat ek nie meer vandag se kind is nie!