Foto-pretsel 8

Ek besef maar net weer elke dag hoe bevoorreg ‘n mens  is om jou al jou kinders/skoonkinders gelyketyd om jou etenstafel te kan hê. 

Dat dit nog vir hulle lekker is om “huistoe” te kan kom en ma en pa se kos te geniet.  ‘n Tweede huis – waar hulle nog kan loer wat is in die yskas, om te proe uit die potte terwyl ek kosmaak en soms met hulle voete op die banke te lê. 

Dit is hierdie oomblikke wat ek verewig in my hart vaslê.  My kosbaarhede, my kleinnode, my lewe . . .

 

Foto-pretsel 4

Hierdie foto is deur my seun/skoondogter geneem tydens ‘n vakansie.  Vir een of ander rede fassineer die foto my.  1001 gedagtes gaan deur my kop – ek wonder wat was die oorsaak van die dood?  Die atmosfeer van die foto spreek boekdele.  Alhoewel dit ‘n hartseerverhaal vertel, bly dit een van my gunsteling fotos.

Foto-pretsel 3

 

 

Die bokke van Fairview is vir my pragtig.  Hulle bekyk jou so van ‘n hoogte.  Dat hulle nie hoogtevrees het nie, is my dood.  Ekself is maar versigtig vir trappe (het al te veel geval in my lewe) maar hulle is dapper.  Al sien hulle nie die hele prentjie nie, gee hulle een tree op ‘n slag.  En hulle kom daar waar hulle wil wees. Dalk moet ons hulle raad volg!!

Foto-pretsel 2

Hierdie foto (weet nie wie die fotograaf is nie) het my so aangegryp en toe ek die aanhaling sien en ek geweet dit moet so wees.  Ek hoor heeldag mense blaf en knor vir mekaar, kollegas, families, egpare, politici . . . en dan wonder ons soms hoekom ons saans so moeg is.  Probeer eerder ‘n sagte antwoord, ‘n glimlag – dit verrig partykeer wondere. Vir almal!