Lodewyk . . . baas van die plaas . . .

So ontmoet ek toe uiteindelik die haan van die laan, of eerder die baas van die plaas.  En hy regeer die plaas behoorlik – met ‘n ysterhoef.  Jonk en oud is vir hom doodbang.  Lodewyk – een ou bul, nou wel ‘n stoetbul, maar in my oё bly hy maar net ‘n bul.

Wanneer jy van hom af wegloop (so hoor ek), draai jy nie sommer jou rug op hom nie.  Hou jy hom hier uit die hoek van jou oog dop.  Net vir ingeval hy besluit hy wil jou regsien. Net omdat hy kan.

Lodewyk is geskuif van afsondering (grotendeels vir sy eie gesondheid en aan die anderkant vir die mense op die plaas se veiligheid) na die koeikamp.  Nou is hy besig met “onderhoudwerk”, die taak waarvoor hy aangeskaf is.  Hy het ‘n klomp koeie wat hy moet gelukkig hou.

Moenie dink dit laat sy gemoed bietjie sak nie.  Mens sou dink met so ‘n vooruitsig behoort hy van oor tot oor te glimlag. Nee, o griet, die arme bul is nou tienkeer erger.  Mens sou sweer dis slawe-arbeid. So vat manlief my die naweek om vir Lodewyk te gaan kyk.

Eers moet daar ‘n strategie uitgewerk word.  Vyf treё vorentoe, en dan eers bietjie stilstaan.  As Lodewyk met sy rug na ons toe staan, moet ons tien treё vinnig vorentoe en drie treё na links beweeg.  Kyk hy vir jou, moet jy hom nie in die oё kyk nie.  Ek oordryf bietjie, maar dit is omtrent net so erg.

Dis toe net daar wat ek my vererg.  Wie dink Lodewyk is hy nou eintlik?  Ek meen, wie kyk dat hy elke dag vars water het? Wie kyk dat die voerkuil behoorlik volgens formule gemeng word vir sy spesiale dieet sodat hy kan stamina hê vir sy lewenstaak?  Wie kyk dat sy waterkrippe skoon is, sy kamp se drade heel is?  (Ek moet erken – ek sou ook sy kamp se drade gaan heelmaak het – dis veiliger).

Al wat nog kort is dat die plaasbestuurder en sy personeel voor hom moet buig as hulle hom sien.  Windgat is ‘n mooi woord.  Arrogant dalk ‘n beter keuse.  Toe ons hom (ons was nog in die boomlaning) nader – hy het ons seker geruik – hoor ek hom snortend geluide maak.  Hy begin blaas en die koeie begin vroetel.  Ek dink weer by myself – dis verregaande.  Hoe kan een bulletjie soveel mag hê?  Die flippen ding kan nie eers praat nie.

Daar staan Lodewyk in al sy glorie.  Dis nie dat hy so groot is as wat ek gereken het nie, dit is sy houding.  Dié is groter as groot.  Wilder as die wildtuin. Hy blaas en hy skoffel en kap met sy hoewe in die grond.  Dis net stof.  Hy druk die koeie met sy groot kop weg van die draad.

Die koeie is skoon beteuterd.  Hulle hyg na asem en trippel senuagtig rond.  In my verbeelding sien ek hoe lawe hulle mekaar met lanfer-lappies.  Lodewyk is op dreef – hy paradeer langs die kamp se draad, gee ons sulke vuil kyke en beloof ons allerhande dinge met sy liggaamstaal (en in duidelike snork-taal) as ons dit sou waag om nader te kom.

Aan die anderkant van die kamp is manlief net so hard besig om te snork en om my agter hom te probeer hou.  Hy moet sy eie koei beskerm.  Hy is nou wel nie (meer) ‘n stoetbul nie en ek nie meer die jong vrugbare koeitjie nie, maar ons het net mekaar.

Ek lag stilletjies tog te lekker.  Lyk my dit is maar hoe dit is – met mans.  Elkeen beskerm maar net wat syne is.  Tot die dood toe. Ons vroue kan maar agteraf tongklap en kopskud, maar eintlik geniet ons die hele gedoente.  Dit laat ons tog veilig en bemind voel.

Met Vadersdag om die draai is dit dalk nou net die tyd om daardie bul in jou lewe behoorlik te bederf.

(Die storie het ek seker so byna twee jaar terug geskryf vir ‘n ander blad, maar dit bly een van my gunstelinge gebeurtenisse)     Foto :  The one and only Lodewyk . . . .

Ek is goedkoop en maklik . . .

Fashion-Jewelry

Dis nie altyd maklik om bekend te staan as ‘n goedkoop en maklike meisie nie.  Die wêreld en sy mense kan gou sy rug op jou draai.  Veroordeel hulle jou nog voor hulle die hele storie agter die storie gehoor het.  Ek weet waarvan ek praat, is al self daardeur. Ek weet hoe dit voel as mense hul neus optrek en anderpad kyk as jy in ‘n vertrek instap.

Op my ouderdom het ek al geleer om nie meer notisie te neem van sulke mense nie.  Dis maklik as jy net jou vingers kan klap en die manne met geld letterlik op hul knieë voor jou kniel vir jou aandag.  Ek weer, moet maar tevrede wees om self die aanvoerwerk te doen.  Kyk van hulle jou ook maar uit die hoogte aan.  Soos ek sê, ek weet hoe dit voel om goedkoop en maklik te wees.

Al wat ek vra is dat mense my eers beter leer ken,  sal verstaan wie en wat ek is voordat hulle die oordeel fel.  Elkeen van ons is tog uniek, nie die beeld van ‘n massaproduksie nie.  Buitendien wil ek ook nie een van die massas wees nie.

Daarom is ek so bly kostuumjuwele is weer hoogmode.  Gelukkig al vir ‘n tydperk en ek hoop sommer nog vir lank. Oor die jare het ek ook gesukkel om weg te kom van dit waarmee ek grootgeword het – selfs silwer was iets waaraan ek eers gewoond moes raak.

Ek het die gewone goue juwele gehad, trouring, armband, horlosie en een of twee pare oorringe. Kon nooit verstaan hoekom vroue so kopverloor oor nog ‘n goue ring nie.   Ek is gewoonlik mosterd na die maal en teen die tyd wat silwer my uiteindelik beetpak, kom kostuumjuwele en ek raak hopeloos verslaaf.

Daar is nog altyd mense wat ‘n weersin het in alles wat nie goud is nie, en soms as ek by ‘n vertrek inkom, sien ek hoe hulle my bekyk, van kop tot tone, vol ongeloof dat ek dit oor my hart kry om goedkoop kostuumjuwele te dra.  Soos ‘n vrou eendag vreeslik meerderwaardig (voor haar goudbeslaande vriendinne”) gesê het : “Ek belê eerder in goud, dis meer waardevol en is vir ewig – en dit gaan eendag as erfstukke vir my dogters!”  Die “erfstukke” was so onder my neus ingevryf.

Ai tannie, ek is jammer om te hoor van jou probleme.  My skoonma het altyd gesê “to each his own” en ek stem daarmee saam.  Ek het geen persoonlike juwelier wat sy meesterstukke teen ‘n huis se prys op sy knieë voor my kom tentoonstel nie.

Geniet maar jou goue erfstukke (sê nou jou kinders verkoop dit na jou dood en koop dan goedkoop kostuumjuwele?), my seuns moet maar self vir hulle vroue goue stukkies koop as hulle daarvan hou.  Ek vrek oor my kostuumjuwele want dit is goedkoop en boonop is dit maklik om self te maak.

Ek dink die mans wat my boonop so uit die hoogte kyk, is maar net moedeloos as hulle my sien, want ek kan nie ophou krap en kyk totdat ek al die stukke onder hande geneem het nie. Buitendien het ek nuus vir die goudbeslaande tannies – ek het sommer groot planne met my kostuumjuwele nadat ek my kop vir die laaste keer gaan neerlê.

My haarkapster gaan my hare mooimaak, my gesig inkleur en my behang met kostuumjuwele voor hulle die kis se deksel toemaak.  Die res moet sommer so op my lyf neergeplaas word.  Oor ‘n duisend jaar as hulle my opgrawe en my kis oopmaak moet hul eerste gedagte wees, “Hier lê defnitief ‘n PRINSES!”

(Foto : Internet)

My verhouding met ander mans . . .

zwine

In my getroude lewe het ek al verhoudings met ‘n hele paar ander mans gehad.  Maak nie saak in watter dorp ons gebly nie.  As ons in ‘n nuwe plek aankom, belowe ek myself om nie oor te gee aan die versoekings om te kyk watter talent die dorp bied nie.  Maar nee, ek gaan stop gougenoeg by my nuwe vriendinne.  Hulle weet gewoonlik waar ‘n mens ‘n mens dié tipe mans kan raakloop. En gewoonlik is ek nie teleurgesteld nie en het ek ‘n nuwe man aan my sy.

Ek weet julle sal my nie glo nie, en ek maak nie verskoning vir my gedrag nie, maar ek kan nie sonder hulle lewe nie. Julle moet my maar so aanvaar.  Gelukkig het my man al gewoond geraak aan al hierdie ander mans wat hy met my moet deel.  Glo dit as jy wil, dit dra tot my skoonma se goedkeuring weg!

Ek kon nog nooit ‘n handige man weerstaan nie.  Die meeste van my probleme kan my man self mee ‘n plan maak, en hy weet ook, die ander mans in my lewe help om van my ‘n beter vrou en mens te maak.  Daarom gee hy nie te veel om nie.  Hierdie mans is nie noodwendig goedkoop met hulle dienste nie, maar, om my gelukkig te hou is my man maar bereid om sy sak te skud vir my plesiertjies.  Ek is voorwaar ‘n gelukkige vrou, want watter man sal sy vrou deel met soveel ander mans?

My eerste verhouding in my getroude lewe was met Mr Min.  Ek het hom ontmoet net kort voor my troue.  Ek wou eers niks met hom te doene gehad het nie, maar kon later net nie meer sy dienste weerstaan nie.   En so met die jare het hy homself bewys.  Ek kan na al die jare nog altyd op sy nommer druk.  Boonop hou my kant van die saak silwerskoon.

Toe ontmoet ek vir Handy Andy.  Hy is nie so rond soos Mr Min nie, en was bietjie meer veelsydig – en daarvan hou ek baie.  Hy het my regtig gehelp om van al my hardnekkige probleme ontslae te raak, probleme waarvoor my man nie eintlik kansgesien het nie.  Vir ‘n baie lang tyd het ek en die twee mans ‘n goeie verhouding gehad.

So drie jaar terug stel Mr Min sy ouer neef aan my voor.  Ek was hoflik, hom ongesiens van ‘n kant af bekyk en eers ignoreer.  Ek het alles probeer om nie weer in die versoeking te val nie, maar dit is moeilik as jy hom elke dag in die winkels raakloop.  Boonop het hy bietjie meer om die lyf en is nie bang om sy manlikheid te wys nie.  Voor ek my kon kry, het ek vir Mr Muscle geval.  Ek is tot vandag toe nog nie spyt nie.  Hy bring sy kant en sien kans om my te aanvaar met al my probleme.

Wat so handig is van hierdie verhoudings in my getroude lewe is dat ek meestal van hulle gebruik maak as my man nie by die huis is nie.  Wat ek sonder Mr Battery, Mr Exhause en Mr Tyre sou maak, weet ek nie.  Hulle is wel bietjie duurder daarom maak ek net so nou en dan gebruik van hulle dienste.  Gelukkig het die meeste van hulle ‘n waarborg.

As ek saans te eensaam raak en my man werk laat of gaan slaap vroeg, dan bel ek my goeie ou vriend, Mr Video.   Hy gee nie om dat ek hom soms net nou en dan nodig het nie.  Vreeslik geduldig.  Ons het al ure saam deurgebring.  Ons twee het al menigmaal saam gelag, saam gehuil en soms saam ons koppe geskud vir die mense.

Wat lekker is van hom, is dat ek al die praatwerk aan hom kan oorlaat en net myself geniet. Boonop gee hy ook glad nie om as ek huil nie en gee ook glad nie om as ek in my nagklere loop nie.  Hy aanvaar my net soos ek is wat beteken hy sien kans vir al my buie. Mr Video kanvan ‘n lang, eensame aand ‘n vrolikheid maak.  ‘n Regte staatmaker.

Afhangende van die tyd wat ek op hande het, en ek behoefte het aan meer, bel ek vir Mr Delivery ook.  Ek hoef nie eers agter hom aan te ry nie.  Hy gee ook nie om om my met Mr Video te deel nie.  Hy sorg gewoonlik vir pizzas, hoenderstukkies en ander heerlike eetgoed.   Dis boonop twee verhoudings wat my man soms aanbeveel as hy sien sy ou vroutjie raak te eensaam of is doodeenvoudig net verveeld.

My nuutste verhouding is met die drieling en oor hulle is ek vreeslik opgewonde.  Lyk my hoe ouer ek raak, hoe meer sien ek kansvir nog.  Gelukkig is hulle bietjie uit my koers maar ek besoek hulle gereeld.  Die enigste probleem is dat ek nooit weet watter een om eerste te kies nie.  Hulle kan nogal my sak ruk, veral as ek hulle aldrie besoek.  Dit is nie nimlike Mr Price Homes, Mr Price Clothing en Mr Price Sports.

Ek is heeltemal verslaaf aan die drie manne.  Ek kan net nie wegbly nie.  Ry ons verby hulle, probeer ek die versoeking weerstaan, maar kry altyd ‘n verskoning om vir hulle hallo te gaan sê.  Boonop gee hulle my soveel plesier en het altyd iets nuuts om my te verlei en bederf my gereeld soos hulle kan.

Ek is seker teen die tyd verstaan julle my dilemma oor die mans in my lewe.  Ek is ook seker julle is self skuldig.  Wys jou nounet, mens moet nooit sommer iemand anders veroordeel voordat jy die hele storie ken nie.  En wees eerlik met jouself, wat sal ons sonder hierdie mans in ons lewe gemaak het?

So, as julle weet van ‘n man wat bereid is om sy dienste aan my lewer, gee vir hom my selnommer.  Dit is nou as hy nie te duur is nie en nie omgee om my met nog ‘n hele paar ander te deel nie!

 

Fotobron : Internet